Londen. - Suid-Afrika se platteland is besig om te ontaard in 'n
slagveld waar amper 2 000 mense reeds vermoor is net omdat hulle wit
boere is, het die The Sunday Times Magazine die afgelope naweek in 'n
voorbladartikel berig.
Op die voorblad van die glanstydskrif wat elke Sondag saam met die
Londense The Sunday Times versprei word, is 'n foto van die Hart-familie van Krugersdorp voor hul grasdakhuis saam met hul private
veiligheidswag.
Die artikel begin met 'n reuse-foto van honderde kruise wat langs die
pad naby Mokopane (Potgietersrus) geplant is met die
woord "plaasmoorde" in die agtergrond. Die byskrif lui: "It is not
the Somme, it is South Africa - and a memorial to nearly 2 000 white
farmers murdered in the last ten years."
"Die motief is nie diefstal nie, ook nie grond nie, soos in Zimbabwe -
maar weerwraak, aangevuur deur rassisme en afguns. En soos die
moorde aangaan, doen die polisie niks nie."
Die skrywer, Brian Moynahan, sê die buitewêreld is welbekend met
Zimbabwe se situasie waar boere van hul plase verjaag en hul grond
sonder vergoeding afgevat word.
Daarteenoor het Suid-Afrika 'n goeie grondhervormingsprogram waarmee
die meeste mense, insluitend die wit boere, saamstem.
Maar terwyl bitter min boere in Zimbabwe vermoor word, word honderde
boere elke jaar in Suid-Afrika vermoor sonder dat die buitewêreld
daarvan kennis neem.
Volgens die artikel is daar mense wat glo dat jou kanse tien keer
groter is om vermoor te word as jy op 'n plaas woon as op enige ander
plek in Suid-Afrika."Dit maak boerdery (in Suid-Afrika) die mees gevaarlike beroep in die
nie-militêre wêreld."
Hy sê 'n besoek aan enige plaas in Suid- Afrika toon duidelik hoe
gevaarlik dit is.
Mnr. Werner en mev. Brigitte Wiedeck, wat naby Makhado (Louis
Trichardt) in die noorde van Limpopo boer, vertel dat hulle al agt
keer in drie jaar beroof is. Twee keer is hul aangerand, die ergste
was verlede April "Hulle het 'n geweer teen my man se kop gedruk en hom vasgebind en my
gemuilband met 'n serp," het mev. Wiedeck aan die Sunday Times vertel. "Toe het hulle my met 'n ysterpaal begin slaan. Hulle het reeds al
ons geld gehad, maar het op meer aangedring. Ek het aan my eie bloed
begin verstik. Ek het gemaak of ek dood is en hulle is weg."
Sy het ernstige skeudelbreuke opgedoen en haar regteroog verloor.
Die polisie het twee uur geneem om op te daag en het glad nie vir
koeëlpunte, vingerafdrukke of spore gesoek nie. "Hulle het min of
meer niks gedoen nie."
"Ek kan die misdaad aanvaar," sê mnr. Paul Hart van
Krugersdorp, "maar ek kan nie die geweld wat daarmee saam gaan,
hanteer nie."
Luidens die artikel toon regeringsondersoeke dat die aanvalle geen
definitiewe patroon het of politiek gemotiveer is nie. Hoewel die
regering dus nie die aanvalle inspireer nie, kan talle
kabinetsministers egter beskuldig word dat hulle nalatig is om die
aanvalle te laat voortgaan, lui die artikel.
Selfs pres. Thabo Mbeki sien nie die erns van die situasie in nie.
Die koerant haal Mbeki aan wat sê wit mense het 'n "psigose van vrees
oor hul oorlewing in 'n see van swart barbare" en dat
hulle "verslaaf" is aan hul eie vrese.
Dit is daarom dat boere in Suid-Afrika dit nie baie snaaks vind as
adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka 'n grappie maak oor grondhervorming
in Zimbabwe en die feit dat Suid-Afrika baie het om te leer by dié
land nie.
|