VF Nuusbriewe : No. 311: 5 April 2012
Nuusbriewe:  
 
 
e-Nuusbrief<    
 
VF-NUUSBRIEF No. 311: 5 April 2012

1. Staatsinligtingswet-reklame: Openbare Beskermer moet staatskas misbruik ondersoek en demokratiese riglyne neerlê: Dr. Pieter Mulder
2. Senior polisie-offisiere is nie hekwagte: Mnr. Pieter Groenewald
3. Minister van Visserye veroorsaak werksverliese: Mnr. Pieter Groenewald



"Die ANC onderskei glad nie tussen staatsinligting en partypolitieke-propaganda nie. Dit is onaanvaarbaar dat my belastinggeld deur die ANC gebruik word om kiesers ten gunste van die voorgestelde staatsinligtingswet te probeer oortuig terwyl dit nog nie wet is nie en die VF Plus en ander organisasies nog die wetsontwerp in die Parlement probeer wysig," was dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier se reaksie op die regering se advertensieveldtog ten gunste van die wetsontwerp. Die VF Plus het in 'n brief die Openbare Beskermer gevra om hierdie misbruik van staatsfondse te ondersoek en riglyne hieroor vir die toekoms op te stel.


Staatsinligtingswet-reklame: Openbare Beskermer moet staatskas misbruik ondersoek en demokratiese riglyne neerlê 
Dr. Pieter Mulder: VF Plus-leier

“Die ANC maak propaganda vir die staatsinligtingswet met my belastinggeld. Dit is totaal onaanvaarbaar om belastingbetalersgeld te gebruik om propaganda te maak vir die staatsinligtingswet nog voor die wet deur die Parlement aanvaar is. Dit is dringend nodig dat die Openbare Beskermer help om riglyne neer te lê oor wanneer belastingbetalersgeld vir advertensies deur staatsdepartemente gebruik mag word en wanneer nie.” Dit was die reaksie van dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, op die publisiteitsveldtog van die departement van staatsveiligheid om Suid-Afrikaners te oortuig om die staatsinligtingswet goed te keur.

Verskillende burgerlike belangegroepe asook opposisiepartye soos die VF Plus maak op hierdie tydstip nog voorleggings en oefen druk uit ten einde die wetsontwerp gewysig te kry. Hierdie groepe se belastinggeld word nou deur die departement van staatsveiligheid teen hulle gebruik om die ANC se standpunt oor die wet aan die publiek uit te dra. Dit is die misbruik maak van belastingbetalersgeld en ondermyn die demokrasie.

In lande waar daar nie riglyne is nie, misbruik regerings die staatskas vir publisiteitsveldtogte ten einde aan hulle ’n voorsprong tydens verkiesings te gee. Geen opposisieparty kan genoeg geld insamel om daarmee te kompeteer nie.

In alle volwasse demokratiese lande is daar duidelike riglyne ten einde te onderskei wanneer die staat belastingbetalersgeld mag aanwend om met alle staatsburgers te kommunikeer en wanneer nie. Hierdie riglyne maak onderskeid tussen staatsinligting en partypolitieke-propaganda. ’n Regerende party moet sy eie partypolitieke geld aanwend om advertensies te plaas wat beleidsrigtings verkondig wat nog nie deur die Parlement as amptelike staatsbeleid goedgekeur is nie. Eers wanneer ’n wetsontwerp ’n wet van die staat word, het ’n regering ’n kommunikasieplig om dit aan die burgers wat deur die wet geraak gaan word, te verduidelik. Dit is duidelik nog nie die situasie in hierdie geval nie.

Die VF Plus gaan die Openbare Beskermer vra om hierdie saak te ondersoek ten einde riglyne te ontwikkel oor die aanwending van die staatskas vir publisiteitsveldtogte in ’n demokrasie. In geen moderne demokrasie is dit aanvaarbaar dat die regering belastinggeld gebruik om partypolitieke-propaganda na die kiesers uit te dra nie. Hierdie beginsel is so ’n ernstige gronduitgangspunt van die demokrasie dat die saak in die grondwethof kan draai.


Senior polisie-offisiere is nie hekwagte 
Mnr. Pieter Groenewald: VF Plus-LP

“Dit is onaanvaarbaar dat senior polisie-offisiere diens as hekwagte moet doen wanneer hulle opgelei is om gespesialiseerde take te verrig. Dit het die belastingbetalers derduisende rande gekos om hulle op te lei om misdaad te beveg. Dit is ‘n fout om alle personeel wat nie ‘n vuurwapen mag dra voetstoots as hekwagte aan te stel. Elke geval moet afsonderlik oorweeg word en polisiebeamptes moet aangewend word tot voordeel van die publiek en die staat. Lede wat skuldig was aan poging tot moord en die onwettige rig van ‘n vuurwapen hoort in elk geval nie in die Polisie nie. Lede wat aan stresverwante toestande ly moet behoorlike berading ontvang. Indien die nodige berading geskied, sal lede gou weer hulle volle take kan verrig en is dit die bestuur se skuld dat hierdie lede onaktief is,” sê mnr. Pieter Groenewald, die hoofwoordvoerder van die VF Plus oor Polisie.

“Dit is prysenswaardig dat die Polisie geld wil spaar, maar die oplossing wat nou voorgestel word, naamlik die aanstel van polisiebeamptes wat nie handwapens mag dra nie as hekwagte in die plek van veiligheidsmaatskappye, is nie die oplossing nie. Indien behoorlike dissipline toegepas word en die nodige sielkundige berading plaasvind, sal die publiek meer waarde vir hulle geld kry. Dit is duidelik dat senior bestuurders nie die nodige vermoëns het om korrek met die kwessie om te gaan nie,” het mnr. Groenewald bygevoeg.


Minister van Visserye veroorsaak werksverliese 
Mnr. Pieter Groenewald: VF Plus-LP

“Die minister van Landou, Bosbou en Visserye, me. Tina Joemat-Petterson veroorsaak nie net vir belastingbetalers onnodige uitgawes nie, maar veroorsaak ook dat Suid-Afrikaners hulle werk verloor. Haar onvermoë om betyds ‘n geldige kontrak in plek te stel vir ‘n privaat maatskappy om die kuslyn te patrolleer, het meegebring dat vlootoffisiere vanaf 3 April 2012 die werk van privaat maatskappye doen. Vlootoffisiere betree nou kommersiële skepe sonder die nodige sertifisering en opleiding en dit kan onwettig wees. Kundiges wat tot hede die werk gedoen het, gaan nou hul werk verloor en kan die land verlaat omdat hul kundigheid oorsee in aanvraag is,” sê mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Verdediging.

“Indien Joemat-Pettersson haar werk gedoen het, sou dit nie nodig gewees het vir die oordrag van hierdie patrolliebote aan die Vloot nie. ‘n Onafhanklike derde party sal nou ‘n oudit van die kommersiële skepe doen. Wie gaan vir die oudit betaal en gaan die Vloot die nodige opleiding verskaf aan sy personeel om die werk op die kommersiële skepe te verrig? Die minister het ook daarin geslaag dat agt opleidingskepe waarop jongmense opleiding ontvang nou aan die Vloot gaan behoort. Die Vloot het ‘n beperkte begroting wat nie voorsiening maak vir die opleiding van jongmense op die patrollie- en navorsingskepe nie. Die vraag kan ook gevra word of die tesourie nou fondse uit die begroting van die department van landbou, bosbou en visserye gaan oordra aan die department van verdediging na aanleiding van die oordrag van die skepe?” het mnr. Groenewald gevra.

Die VF Plus het reeds vrae in die Parlement aan die minister van verdediging gerig oor die oordrag, maar gaan ook vrae indien aan Joemat-Petterson waarin sy gevra word om verduidelikings te verskaf oor die koste verbonde aan die oordrag van die skepe, die opleiding van vlootoffisiere om die navorsingskepe en patrolliebote te beman asook wat die omvang van die werksverliese en opleidingsgeleenthede vir jongmense is.


Algemene foonnommer van die VF Plus: 0861 700 700


Indien u nie die VF-nuusbrief wil ontvang nie - stuur asseblief 'n e-pos aan die volgende adres: dalien@vf.co.za
Vir meer inligting oor die VF+, kan u gerus vir Kol. Piet Uys kontak by die volgende e-pos adres of telefoonnommer:
Kol. Piet Uys : info@vf.co.za of 0861 700 700 / 012-6650564